Dewald Wasserfall



MY NAAM IS DEWALD WASSERFALL

Biografie

Vir amper 20 jaar al is Dewald Wasserfall se wêreld so te sê oorheers deur musiek, en oor die afgelope dekade het hy in ’n suksesvolle en hoogs
gerespekteerde sanger en liedjieskrywer ontpop.

Liedjies skryf is in sy bloed. Op die jong ouderdom van 12 het Dewald alreeds sy eerste liedjie geskryf. Ná matriek het hy sy talent na die destydse Pretoria Technikon geneem en sy algemene bekwaamheid verder geslyp deur ’n diploma in vermaaklikheidstegnologie te verwerf.

Dubbeld gekwalifiseer, beide op papier en met loutere talent, het hy die volgende vier jaar sy groep Wasserfall gelei, en twee albums, insluitende die treffers Suikerbos en All About Me, vrygestel – onderwyl hy liedjies geskryf het vir sommige van Suid- Afrika se grootste sterre, soos Jay, Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk en Lianie May. “My grootste vyand is ek self,” lag hy. “Ek kan nie stilsit nie. Wanneer ek nie slaap nie, hol ek rond en voeg verkieslik nuwe idees en kleure by my progressiewe musieksmaak.”

Sedert 2010 bou Dewald aan ’n suksesvolle solo-loopbaan. Hierdie perfeksionis, professioneel tot die murg toe, het twee jaar lank aan sy langverwagte solo-debuut, 2012 se Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde, saam met medeskrywers en tydgenote Johan Vorster en Ewald Coleske, gewerk. Beide die titelsnit, Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde en die tweede enkelsnit,
Eendag As Ons Groot Is het die nommer 1 posisie op verskeie radiostasies reg oor die land bereik.

Tydens 2013 se Innibos Kunstefees in Nelspruit is Dewald voor 30 000 mense op die hoofverhoog verras met die feit dat sy album goue status bereik het en hy is ook daar en dan uitgenooi om deel te wees van die Afrikaans Is Groot-konsert. Intussen het hierdie album platinum status bereik vir verkope van meer as 40 000.

2014 merk die uitreik van sy tweede solo album getiteld, #EkEnJy, wat reeds binne drie maande goue status bereik het. Die 15-snit album met sy eiesoortige lirieke en melodie wat Dewald se stempel afdruk saam met skrywer Christoph Kotzé en die bekroonde Johan Vorster.

“Ek is deesdae baie gefokus op my eie materiaal,” vertel hy. “Soveel so dat ek gesnoei het aan die tyd wat ek deurbring om saam met vriende en medekunstenaars te skryf, en in die laaste tyd eerder daardie energie in my eie werk probeer inploeg.” Om ’n bietjie selfsugtig te wees blyk om hom in die proses meer vrygewig te maak – sy waarderende aanhangers vind immers
baat daarby.

Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde is liries gelaai en melodies ryk, en trek steeds nuwe aanhangers aan elke keer wanneer Dewald die lang pad met sy musiek aandurf. ’n Bonus vir ou bewonderaars is die insluiting van die lewendige gunsteling, My Hart Se Hongersnood, op die album. Karlien van Jaarsveld het ook haar stem tot die onmisbare applouswekkende snit
gevoeg, wat dit tot ’n hele nuwe vlak van genot neem.

2014 merk die suksesverhaal van sy loopbaan en hy was ook weer te sien by Afrikaans Is Groot – Die Konsert in beide Pretoria en Kaapstad. “Ek’s trots Afrikaans,” sê hy. Hy besef dat sy aanhangers regoor die land nie net totaal toegewyd is aan waar hy vandaan kom nie, maar ook selfs nog meer belê in waarheen hy op pad is .In April 2013 het hy ook die gesogte Beste
Nuweling toekenning by die Ghoema Afrikaanse Musiektoekennings ingepalm. Hy is ook genomineer vir nie minder as drie Huisgenoot Tempo toekennings – Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album en Beste Musiekvideo waar hy ook met die Tempo vir Nuweling van die Jaar weggestap het.

Pop, rock, akoesties of melodies – elke beskrywing van Dewald Wasserfall se sterkpunte, en hoe en waar hy sy musiek sien inpas, is allermins meer of minder gegrond op een spesifieke genre. “My materiaal is uniek,” beklemtoon hy.

Wat #EkEnJy selfs meer boeiend maak vir nuwe en jarelange getroues, is Dewald se aandag aan detail en sy fokus daarop om slegs die mees uitmuntende vervaardigingswaardes tot sy skeppings te voeg. “Kwaliteit is die sleutel,” bevestig hy. “Gehore kan en moet krities en veeleisend wees. As ’n musiekliefhebber weet ek ék is, en dit is iets wat ek waardeer. Ek wil my beste werk lewer, elke keer, in antwoord daarop.

Om terwyl hy toer kennis te maak met die mense wat na ’n Dewald Wasserfall vertoning kom kyk, is een van die baie aspekte wat hy geniet, te midde van ’n leefstyl wat soveel vereis van kreatiewes. “Ja, ek bring baie tyd deur op toer,” gee hy toe, “maar al is dit moeilik om vêr van die huis te wees vir lang tye op ’n slag, stroom die beloning aand ná aand in. Ek kry soveel
bevestiging, elke dag, dat wat ek doen mense aanraak – op ’n vlak wat my inspireer om vol te hou om die beste, mees genotvolle en onvergeetlike musiek moontlik te maak.”

Aanhangers ondersteun Dewald, die wenner van vele toekennings, steeds as ’n kunstenaar wat applous en bewondering verdien. “Ek weet nie mooi hoe ek doen wat ek doen nie,” sluit hy af, “maar ek is ongelooflik dankbaar vir elke aspek van my lewe. Dit gee my die geleentheid om al die gunste wat aan my bewys is, terug te gee elke keer as ek opstaan om op te tree.”



 
 

 




• 2012 – Vergeet Wat Jy Weet van Liefde album uitgereik, het goue status bereik
• 2012 – Vergeet Wat Jy Weet van Liefde – liedjie was nr 1 op verskeie radiostasies se Top 20’s & Top 10’s
• 2013 – Eendag As Ons Groot Is – liedjie was nr 1 op verskeie radiostasies se Top 20’s & Top 10’s
• 2013 – Ghoema Afrikaanse Musiek Toekenning – Beste Nuweling
• 2013 – Huisgenoot Tempo Toekennings – Nuweling van die jaar
• 2013 – Optrede by Afrikaans is Groot konserte (56 000 mense in Pretoria, 15 000 mense in Kaapstad)
• 2013 – Gasspeler in die musiekfliek As Jy Sing
• 2014 – Eendag As Ons Groot Is – Genomineer vi Musiekvideo van die jaar by Ghoema Afrikaanse Musiek Toekennings
• 2014 – #EkEnJY album uitgereik
• 2015 – #EkEnJy – SAMA-nominasie – Beste Kontemporêre Album
• 2015 – Manlike Kunstenaar van die Jaar – Ghoema-nominasie
• 2015 – Liedjie van die Jaar – Ghoema-nominasie – So Eensaam Soos Die Son
• 2015 – #EkEnJy – Kontemporêre Album van die Jaar – Ghoema-nominasie
• 2015 – Beste Liedjieskrywer – Ghoema-nominasie Beste

 

 


 

 


 

 

 

 

 

 

 

 




 


 








  PARTNER LINKS POLLS VOTEINGS SAM EXTRAS
RADIO SAM EVENTS
OUR TEAM ADVERTISE
MEMBERS GEST BOOK
MUSIC VIDEOS RADIO EENDRAG RADIO STATIONS NEWS LETTER  
  FORUM FAN PAGES CONTACT ROOI BOK SOKKIE EVENTS SITE MAPS SA SINGERS CHAT BOX LINK LIST  
  SPONCERS OUR LINKS TOPLIST BOERVOLK RADIO COOK BOOK TRAVEL RADIO INFO LINKS  

Diese Webseite wurde kostenlos mit Homepage-Baukasten.de erstellt. Willst du auch eine eigene Webseite?
Gratis anmelden