Ná 1994 is die Afrikaner se herontdekking van sy identiteit in sy musiek weerspieël. Die musikante van Voëlvry het meer inwaarts gekeer, groepe soos Battery9 is gestig wat Afrikaans in nuwe genres gebruik het, en Afrikaans het selfs sy eerste heavy metal-liedjie, Voice of Destruction se "J.M.S.P.", gekry (1995). Sedert 2000 het Afrikaanse musiek 'n oplewing ondervind: Groepe soos Fokofpolisiekar, K.O.B.U.S!, Insek, Straatligkinders, Jack Parow, Brasse van die Kaap en Die Antwoord het Afrikaans in 'n groter verskeidenheid musiekgenres aangewend en daardeur aangetoon dat Afrikaans 'n lewendige en nie eendimensionele taal is nie. Vertalings is ook gebruik om die interkulturele gesprek met veral Europa na die isolasie van Apartheid te hervat: Hier kan veral die Afri-Frans, Afri-Spaans en Brel-projekte genoem word.
Die anti-apartheid protesmusiek van Voëlvry is ook opgevolg met nuwe protesmusiek teen die establishment: Koos Kombuis het na 'n paar verspreide protesliedjies sy "Bloedrivier" album in 2008 vrygestel, en groepe soos Glaskas, Klopjag, Fokofpolisiekar en natuurlik Bok van Blerk het begin om protesliedjies te skryf teen wat gesien word as 'n marginalisering van die Afrikaner, asook die heersende misdaadklimaat.
Boeremusiek is 'n unieke vorm van instrumentele volksmusiek wat in Suid-Afrika hoofsaaklik deur Afrikaanssprekendes beoefen word. Dit dateer uit die era toe die persone wat dit beoefen het internasionaal bekend gestaan het as "Die Boere" van Suid-Afrika. Dit is informele musiek wat op 'n kenmerkende manier gespeel word en is hoofsaaklik bedoel as begeleiding vir sosiale danse.